81
pages
Afrikaans
Ebooks
2021
Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage
Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne En savoir plus
Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement
Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement
81
pages
Afrikaans
Ebook
2021
Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage
Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne En savoir plus
Publié par
Date de parution
01 avril 2021
Nombre de lectures
0
EAN13
9781776250318
Langue
Afrikaans
Poids de l'ouvrage
2 Mo
Waldo is seker Connie is in groot gevaar. Wat anders beteken die vreemde gedagteflits wat hy gesien het? En wie is die meisie met die geel reënjas wat Waldo ’n ruk lank agtervolg het? Gaan sy weer haar opwagting maak? En wat wil sy hê? Die antwoorde op hierdie vrae gaan Waldo se lewe vir ewig verander …
Die vierde en laaste boek in die reeks.
Publié par
Date de parution
01 avril 2021
Nombre de lectures
0
EAN13
9781776250318
Langue
Afrikaans
Poids de l'ouvrage
2 Mo
Illustrasies deur Gwendolene van der Merwe
Pan Macmillan Kinderboeke
www.panmacmillan.co.za
Hoofstuk 1
SWEM SOOS ’N BAKSTEEN
Waar hy soos ’n verskrikte seekat aan die rand van die swembad vasklou, is Waldo vanmiddag oor drie dinge spyt.
Hy is spyt sy ma het ’n groot kontrak gekry om ’n hele winkelsentrum se toilette reg te maak. Dít is hoekom sy gevra het of Waldo dié week saam met Connie-hulle skool toe en terug kan ry. Dis immers nie ekstra moeite nie, want hulle bly in dieselfde woonstelblok, en Connie se oppasser, Chandrelize, vat haar buitendien elke oggend skool toe en terug.
Waldo is spyt hy het ingestem om saam met Connie na haar swemles toe te kom. “Ag toe, man! Tannie Myrtle, my swemafrigter, sal glad nie omgee nie,” het Connie gesê. “Of wil jy die hele middag lank by tannie Martie in haar woonstel sit tot jou ma klaar gewerk het? Toe nou, jy’t my nog nooit gesien swem nie!”
Maar waaroor hy die spytste is, is dat hy hom laat ompraat het om óók in die swembad te klim.
Toe haar swemles verby was, het Connie so gekerm en gesmeek en gepleit dat Waldo uiteindelik maar in die water geklim het. As Connie op haar hardste kerm en smeek en pleit, is dit baie moeilik om nee te sê. “Jy kan sommer in jou kortbroek swem,” het sy gesê. “Toe nou, dit sal lekker wees, jy gaan sien!”
En hier klou hy nou al amper ’n halfuur lank aan die rand vas.
Dit is ’n heerlike, warm lentemiddag – perfek vir swem. As jy iemand is wat hou van swem, natuurlik.
Waldo kyk na die rolstoel wat langs die swembad staan. As ’n mens Connie so deur die water sien gly, is dit moeilik om te glo sy kan nie loop nie. Sy neem al van kleins af swemlesse, want die dokters sê dit hou haar spiere sterk. Connie het al vir hom video’s op die internet gewys van paralimpiese swemmers wat wêreldrekords opgestel het – en party van hulle is nog op skool.
“Ontspan, Waldo!” Connie kom met kragtige hale nader geswem. “’n Mens se lyf dryf sommer vanself,” gee sy raad. “Jy moet net ontspan en dit geniet.”
Waldo snork en skud sy kop. “Die kans is groter dat ek ’n tandartsbesoek sal geniet.”
Connie ignoreer sy grappie. “Kyk hier, só,” beduie sy. Sy leun agtertoe in die water en demonstreer wat hy moet doen. “Of gebruik my swemplank – dis so maklik, selfs ’n graadeentjie kan dit doen.”
Waldo ignoreer die swemplank wat sy na hom toe stoot en sy vingers klou nog ’n bietjie stywer om die rand vas. “Dis maklik vir jou om te sê,” brom hy. “Jy het al swemlesse gekry nog voor jy kon praat. Jy’s soos ’n vis in die water. Ek, aan die ander kant, is soos ’n baksteen in die water.”
Connie se wenkbrou lig. Sy hoef niks te sê nie, Waldo ken haar teen dié tyd goed genoeg. Hy weet wat daardie wenkbrou beteken. Dit beteken: Waldo Loots, hou op om jouself jammer te kry. Waar is jou avontuurlus? Hoe sal jy weet of jy kan swem as jy dit nog nooit eens behoorlik probeer het nie?
Waldo kners op sy tande. Wel, dís darem nie heeltemal waar nie ...
“Ek hét al probeer swem, Connie. Onthou jy daai keer toe ek van die boot afgespring het?” vra hy. As hy terugdink aan die koue donker seewater wat om hom toegevou het, kry hy sommer so ’n benoude gevoel op sy bors. “Ek het soos ’n klip gesink, reguit ondertoe, ingeval jy vergeet het.”
Connie rol haar oë. Sy is nie net baie goed met swem nie, dink Waldo vies, sy is ook briljant met oë rol.
“Daai keer tel nie, Waldo,” stry sy. “Jy het soos ’n mal hoender in die see geduik, agter ’n ...”
Waldo maak haar met ’n kwaai kyk stil en beduie na Chandrelize wat langs die swembad sit en lees. Wel, eintlik lyk dit asof sy aan die slaap geraak het met Wonderlike wimpers: ’n gids vir beginners bo-op haar gesig. Maar dis nogtans beter om nie kanse te vat nie.
“... agter ’n draakeier aan!” fluister Connie.
Waldo kan nie help om effens te glimlag nie. Dis nogal moeilik om nie te glimlag as iemand die woord draakeier sê nie – dis ’n woord wat klink na pret en avontuur en geheime. Connie kan nou wel partykeer irriterend wees, maar hulle het al ongelooflike pret en avonture saam beleef, en geheime ontdek waarvan niemand anders weet nie. Dinge wat die meeste mense nie sal glo as hulle dit hoor nie!
“Maak toe jou oë en verbeel jou jy’s ’n meermin,” sê Connie. Sy maak haar oë toe en gly rats deur die water. “Jy’s nie bang vir die water nie, dis waar jy tuishoort ...”
“Moenie simpel wees nie,” brom Waldo. “Waar ek tuishoort, is op ons sitkamerbank voor die TV – met ’n groot bak tjips en ’n glas yskoue koeldrank.”
Waldo kyk selfbewus na die groepie kinders wat ’n ent daarvandaan besig is met ’n swemles by tannie Myrtle. ’n Paar van hulle bulder van die lag oor iets. Lag hulle vir hom omdat hy soos ’n slak aan die kant van die swembad vasklou?
“Ek gaan my definitief nie probeer verbeel ek is ’n meermin nie,” sê hy. Hy loer weer in Chandrelize se rigting en fluister: “Meerminne kan onder die water asemhaal, ingeval jy vergeet het. Iets wat ek nie kan doen nie, ingeval jy vergeet het.”
Dis nog ’n geheim wat Waldo en Connie deel – die feit dat hulle ’n regte, egte meermin ontmoet het.
Doef!
Wonderlike wimpers het van Chandrelize se gesig afgegly en op die teëlvloer te lande gekom. Sy skrik met ’n fyn snorkgeluidjie wakker en kyk verward rond.
Chandrelize studeer om ’n skoonheidsterapeut te word. Connie se ma-hulle is besig, besig, besig, so hulle betaal haar om Connie skool toe en terug te vat, haar smiddae geselskap te hou en haar by haar swemlesse te kry. Boonop werk Chandrelize ook saans as kelnerin in ’n restaurant. So, bedags is sy nooit heeltemal wakker nie. Sy raak gereeld op die vreemdste plekke aan die slaap. Eenkeer het sy ’n uiltjie geknip onder ’n tafel in die restaurant waar sy werk, en eers weer die volgende oggend wakker geskrik toe die eienaar kom oopsluit het.
Chandrelize vee haar lang blonde hare agter haar ore in en kyk op haar horlosie. “Oukei, julle twee, tyd om uit te klim,” kondig sy met ’n groot gaap aan. “Ons moet ry voor die spitsverkeer begin – anders gaan ek laat wees vir my skof by die restaurant.”
Waldo laat hom nie twee keer nooi nie – soos blits is hy uit die water.
Maar Connie smeek: “Nog net een lengte!”
Sy stoot haarself van die kant af weg en swem op haar rug deur die water.
Waldo droog homself af met die ekstra handdoek wat Connie “toevallig” saamgebring het.
“Wag maar, Waldo,” sê Connie uitasem terwyl sy haarself uit die water hys. “Sodra ek vanmiddag by die huis kom, gaan ek video’s soek wat my kan help om jou te leer swem.”
Waldo snork. “Vergeet dit. Nie eens Google gaan my lief maak vir swem nie.”
Connie is verslaaf aan tegnologie – en sy glo daar is amper geen probleem op aarde wat jy nie met Google kan oplos nie.
“Ons sal sien,” sê Connie en begin haarself afdroog.
Chandrelize staan nader om haar tot in haar rolstoel te help.
Waldo grinnik. Connie het nou wel meer avontuurlus as gesonde verstand, maar een ding is seker – saam met haar is daar nooit een vervelige oomblik nie.
Hoofstuk 2
OPGEFROMMEL
As ’n mens op Kruwelhof se dak staan, het jy ’n mooi uitsig op die parkie oorkant die straat. Dit is amper skemer, maar hier en daar is nog mense wat in die parkie draf of fietsry of met hulle honde stap. ’n Paar van die bome spog met kleurvolle lentebloeisels wat lyk of dit in die laatmiddagson gloei. Waldo verbeel hom amper hy kan die bloeisels al die pad tot hier bo op die dak van die woonstelblok ruik.
Wrau?
Spanner gee ’n vraende tjankie en kyk met ’n frons na die vel wit papier in Waldo se hand. Frons is iets waarmee spanjoele baie goed is.
Waldo glimlag. “Oukei, oukei,” sê hy.
Hy sit die vel papier op die muurtjie voor hom neer en begin vou. Deesdae is dit amper nie eens meer nodig om te konsentreer nie – sy vingers weet teen hierdie tyd presies wat om te doen. Dit het hom maande en maande geneem om die perfekte papiervliegtuigie te leer vou – een wat baie ver kan vlieg sonder om neus eerste ondertoe te duik. Dit verg ’n hele klomp ingewikkelde voue, maar sy vliegtuigies vlieg partykeer so ver oor die straat en oor die parkie dat mens dit later nie meer kan sien nie.
Toe die vliegtuigie klaar is, tel Waldo dit op en kyk ingedagte daarna. Onverwags kom sit daar ’n knop in sy keel.
Waldo het dit nog nooit vir iemand vertel nie – nie eens vir Connie nie – maar partykeer verbeel hy hom die wind sal sy papiervliegtuigies al die pad tot by sy pa vat.
Toe Waldo nog ’n baba was, het sy pa spoorloos verdwyn. Die polisie het jare terug al opgehou soek na hom. As Waldo sy oë styf toeknyp, kan hy ’n prentjie van sy pa in sy gedagtes sien: ’n breë glimlag, blou oë en ’n wilde bos bruin krulhare, nes Waldo s’n. Maar die prentjie wat hy sien, is natuurlik maar net hoe sy pa op die ou foto’s in die fotoalbum lyk. Hy het hom eintlik nooit regtig geken nie. En tog voel dit partykeer of hy na hom verlang.
Kan ’n mens iets mis wat jy nooit gehad het nie? Connie was nog baie klein toe sy siek geword en verlam is. En tog, al kom sy baie goed reg, is Waldo seker daar is kere wanneer sy wens sy kon loop en hardloop en spring, al kan sy dalk nie eens onthou hoe dit gevoel het om dit te doen nie.
Spanner spring teen die muurtjie op en kyk afwagtend na die vliegtuigie in Waldo se hand. Hy hou daarvan om te kyk hoe die vliegtuigies oor die straat en die parkie sweef.
Maar Waldo huiwer nog steeds.
Die afgelope klompie maande het daar baie vreemde dinge gebeur.
Dit het alles begin met sy gedagteflitse. Elke keer as hy duiselig begin voel, sien hy vreemde tonele, soos kort grepies uit flieks. Dinge wat later regtig gebeur.
Die gedagteflitse het hom en Connie op die spoor van allerlei avonture gesit. Die soort avonture waarvan hy nooit in sy wildste drome sou kon droom nie. Hulle het ’n weerwolfseun en sy ouma ontmoet. Hulle het ’n draakeier uit die han