Minki maak `n plan
38 pages
Afrikaans

Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage

Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement

Je m'inscris

Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement

Je m'inscris
Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne
En savoir plus
38 pages
Afrikaans

Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage

Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne
En savoir plus

Description

Minki en haar maats is baie opgewonde toe hulle ’n onverwagse besoeker kry. Hulle ontdek ’n oulike katjie in die tuin. Waar kom sy vandaan, en sal hulle haar kan help om weer haar huis te kry? Hulle sal egter vinnig ’n plan moet maak, want Minki se hond, Spaghetti, hou glad nie van dié nuwe kuiergas in die huis nie!
Intussen kry Minki ’n nare verrassing toe haar klas ’n belangrike projek moet doen …
Kort voor lank waai die hare behoorlik!

Sujets

Informations

Publié par
Date de parution 01 mai 2022
Nombre de lectures 0
EAN13 9781776251285
Langue Afrikaans

Informations légales : prix de location à la page 0,0255€. Cette information est donnée uniquement à titre indicatif conformément à la législation en vigueur.

Extrait

Pan Macmillan Kinderboeke
www.panmacmillan.co.za


Hoofstuk 1
’n Naam uit ’n inkopiesak
“Haai, julle, raai wat is groen en hang aan bome,” roep Arno.
“Appels?” raai Selwyn. “Of wag ... blare? Of ... uhm ...”
“Kameelperdsnollies!” roep Arno uit.
’n Klomp kinders skater van die lag en ander trek nare gesigte. Minki kan nie help om ook te lag nie. Sy weet sommer haar tweelingboeties sal hulle slap lag vir Arno se grappie.
Die klas is raserig. Juffrou Adams moes gou kantoor toe gaan.
Danika gluur vir Arno en Selwyn vies aan. “Regtig?” sê sy uit die hoogte. “Dit is glad nie snaaks nie.”
Arno kyk verbaas vir Danika. “Nie snaaks nie?” vra hy. “Wat op aarde is snaakser as kameelperdsnollies?”
’n Klomp kinders bars weer uit van die lag.
“Hoe lank nog voor die klok lui?” vra Natalie vir Minki en Lara. “Ek is morsdood van die honger.”
“Wat het jou ma vandag vir jou ingepak?” vra Lara.
“Ek weet nie,” sê Natalie. “Wag, kom ek kyk gou.”
Sy buk af en haal haar kosblik uit haar tas. Minki en Lara kyk vir mekaar en glimlag. Hulle weet sommer wat kom ...
Natalie maak die deksel oop en loer in haar kosblik.

“Mmm,” sê sy. “’n Panini met hoender en tamatie en ...” Natalie se gesig val.
“Pynappel!” sê Minki en Lara gelyk.
Natalie se ma pak amper elke liewe dag vir haar iets met pynappel in. Pynappelsmoothies, muffins met pynappelkonfyt, pynappeljogurt, pynappelsap. Minki het nooit eens besef ’n mens kry soveel soorte kos met pynappel in nie. Natalie kla altyd dat pynappel haar tong laat jeuk. Gelukkig gee Minki en Lara nie om as hulle drie pousekos uitruil nie, want Natalie se ma pak heerlike kos in – mits jy van pynappel hou!
“Jig,” sê Danika en frommel haar neus. “Wie se pousekos ruik so?” Sy gluur na Natalie se kosblik. “Hoe kan jy nog aan kos dink terwyl die seuns sulke jiggie grappe vertel?”
Minki kners op haar tande. Danika is ’n regte drama-llama en sy dink sy is beter as almal.
“A nee a! Wat gaan hier aan?” vra ’n harde stem.
Die klas word dadelik tjoepstil. Juffrou Adams kyk kwaai na die kinders. “Julle weet mos julle mag nie raas as ek uit die klas is nie.”
“Ek het hulle gesê, Juffrou,” sê Danika, “maar niemand wou vir my luister nie.”
Minki kyk vir Lara en Natalie en die drie maats rol gelyk hulle oë. ’n Mens sal sweer Danika is hoofmeisie!
Juffrou Adams ignoreer gelukkig Danika se witvoetjiesoekery. “Die klok gaan nou-nou lui vir pouse,” sê sy. “Maar eers het ek ’n belangrike aankondiging.”
Almal spits hulle ore.
“Ons gaan volgende week ’n lekker projek doen,” gaan juffrou Adams voort. “Julle moet besluit op ’n winkel wat julle graag wil oopmaak. Dit kan enige soort winkel wees. Volgende Maandag moet julle vir die klas kom vertel van julle winkel. Ek wil weet wat julle winkel se naam is, wat julle gaan verkoop of watter diens julle gaan lewer, hoe julle winkel gaan lyk, en so aan. Dit gaan baie punte tel, so, maak seker julle doen moeite. Ek soek lekker kreatiewe idees.”
Selwyn se hand skiet in die lug op. “Mag ons in groepe saamwerk, Juffrou?” vra hy.
Juffrou Adams knik. “Ja, Selwyn. Julle gaan twee-twee saamwerk.”
“Whoehoe!” juig Arno en Selwyn en slaan hulle handpalms teen mekaar.
Minki sug teleurgesteld. Agge nee! Hoekom kan hulle nie maar drie-drie saamwerk nie? Hoe gaan sy tussen haar twee beste maats kies?
“Maar julle gaan nie self groepe kies nie,” gaan juffrou Adams voort.
Sy haal iets uit haar lessenaar se laai. Dis ’n inkopiesak, sien Minki verbaas.
“Ek het julle almal se name in hierdie inkopiesak gegooi, om by ons winkeltema te pas,” verduidelik die juffrou. “Julle gaan name uit die sak trek. Die persoon wie se naam jy trek, is jou spanmaat vir die projek.”

Minki sug. Sy is nie seker of dit so ’n goeie idee is nie.
Arno kry eerste kans om ’n naam uit die sak te trek. Hy kyk na die papiertjie, huiwer ’n oomblik en sê dan: “Selwyn!”
Juffrou Adams frons. “Wag ’n bietjie,” sê sy agterdogtig. “Gee daardie papiertjie hier.” Sy vat die papiertjie by Arno en lees die naam daarop. “Jy jok, Arno!” sê sy en skud haar kop. “Jy en Stacey-Lee werk saam.”
Danika en Stacey-Lee kyk geskok na mekaar.
“Maar ek en Danika wil saam wees!” sê Stacey-Lee.
Juffrou Adams skud haar kop. “Nee, dis nie hoe dit werk nie.”
Stacey-Lee vou haar arms en gluur vir Arno vies aan. “Moet net nie dink jy gaan heeltyd vir my snolliegrappe vertel nie,” brom sy.
Volgende is dit Natalie se beurt om ’n naam uit die sak te trek. Sy vou die papiertjie oop. Minki hou haar asem op.
“Lara!” roep Natalie opgewonde uit.
“Sy jok, Juffrou!” roep Danika verontwaardig.
Natalie rol net haar oë en gee die papiertjie vir juffrou Adams om te wys sy jok nie.
Minki kreun. Agge nee! Sy is baie bly vir Lara en Natalie se part dat hulle saam is ... maar saam met wie gaan sy dan werk?
Nog ’n paar kinders trek name uit die sak. Dan gaan staan juffrou Adams by Danika se tafel. Danika trek ’n naam uit die inkopiesak. Sy vou die papiertjie oop ... en haar oë rek.
“Wie is jou spanmaat, Danika?” vra juffrou Adams ongeduldig.
Danika sug dramaties. Dit lyk of sy haarself probeer dwing om ’n aaklige woord te sê – ’n woord wat selfs erger is as “kameelperdsnollies”.
“Minki,” sê sy.
Minki se maag slaan bollemakiesie. Ag nee! Dit kan nie wees nie. Sy sal saam met enige iemand anders aan die projek werk – selfs Arno of Selwyn met hulle grillerige grappies!
“Jammer, Minki,” fluister Lara.
Natalie kyk ook bejammerend vir Minki.
Toe almal ingedeel is, lui die klok vir pouse.
Minki haal met ’n sug haar kosblik uit haar tas. Toe sy opkyk, staan Danika langs haar tafel. Sy gluur Minki met haar ysblou oë aan. “My skoolpunte is vir my baie belangrik,” sê sy. “Jy beter nie die projek opmors nie.

  • Univers Univers
  • Ebooks Ebooks
  • Livres audio Livres audio
  • Presse Presse
  • Podcasts Podcasts
  • BD BD
  • Documents Documents