Om jou te Ken
72 pages
Afrikaans

Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage

Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement

Je m'inscris

Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement

Je m'inscris
Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne
En savoir plus
72 pages
Afrikaans

Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage

Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne
En savoir plus

Description

Gabby en haar niggie Georgia lyk baie na mekaar en toe hulle jonger was, was hulle onafskeidbaar. Maar iewers het hulle vreemdelinge vir mekaar geword. Al wat hulle nou gemeen het, is die bloed in hulle are. Gelukkig het Gabby goeie vriende en dalk selfs iets meer as net vriendskap met Brandon...

Toe die matriekgroep van Barkly-Wes op ’n toer na Kaapstad vertrek, ontdek Gabby dat sy per ongeluk Georgia se dagboek ingepak het. Kort voor lank kry haar nuuskierigheid die oorhand en begin sy haar niggie se dagboek lees. Wanneer Georgia daarvan uitvind, breek ’n volskaalse niggie-oorlog uit.

Nie eens Kaapstad se besienswaardighede of hulle vriende se raadgee-pogings kan die spanning verlig nie. Gaan Gabby se verraad die niggies nog verder uitmekaar dryf of gaan dit daartoe lei dat hulle mekaar beter begin verstaan? En wat van Brandon? Gaan hy aanhou om haar te vermy nadat Georgia stories oor haar versprei het, of sal hulle steeds saam matriekafskeid toe gaan?


Sujets

Informations

Publié par
Date de parution 31 août 2021
Nombre de lectures 0
EAN13 9781776250776
Langue Afrikaans

Informations légales : prix de location à la page 0,0360€. Cette information est donnée uniquement à titre indicatif conformément à la législation en vigueur.

Extrait

Pan Macmillan
www.panmacmillan.co.za


Proloog
“Happy birthday to youuu! Hiep-hiep-hoera! Hiep-hiep-hoera!”
Ek sug verlig toe die vals gesingery tot ’n einde kom. Dis ’n sonde om so gestraf te word op jou verjaarsdag!
“Kom, Gabby en Georgia, blaas nou jul kerse dood,” deel antie Frieda orders uit. Dit gaan nou al heeloggend so: Slaap ’n bietjie laat! Eet julle brekfis! Gaan was! Die mense gaan nou-nou hie’ wees . Ek weet nie of ek vandat ek opgestaan het een keer stilgesit het nie.
Ek’s nou al oor my – eintlik óns – birthday party en ek’s nie die enigste een nie. Antie Frieda moes ná brekfis vir Georgia order om haar “gesig reg te trek”. Maar my niggie luister na niemand nie, en haar RBF klou vandag. Nie eens die geskenke wat sy gekry het, maak haar happy nie. Sy wou vandag saam met Lindsay en haar tjommies blom – potjiekos langs die rivier as ek reg onthou – maar ons ma’s het ons goed laat verstaan dit gaan nie gebeur nie. Ons gaan saam verjaarsdag hou, net soos altyd. Ten minste is ’n handjievol van ons vriende hier: Lindsay en Jaydey vir Georgia, Nadia en Sean vir my. Maar waar is James?
“Maak ’n wish,” sê my ma, en ek moet keer dat ek nie my oë rol nie.
“Ma, ons is nie tien jaar oud nie!” Ek verloor die stry omdat ek presies tien klink. Nadia trek vir my skewebek en ek steek my tong vir haar uit.
“Nee, julle is nie, Gabby, maar birthday wishes is nie net vir kinders nie. Kom, blaas nou die kerse dood en maak jul wish.”
Ek maak my oë toe en hoop maar ’n wens kom in my gedagtes op. Maar niks gebeur nie.
Wat wil ek hê? Om my matriekeksamen te slaag? Om nie my ma teleur te stel nie? Dis dalk ’n bietjie heavy vir ’n verjaarsdagwens. Ek maak my oë oop. Dit help nie om te staan en wag op ’n antwoord nie.
“Oukei, nou kan ons die koek sny.” My ma bring ’n klein silwer toegedraaide geskenk te voorskyn.
Ek loer oor die tafel en sien dat antie Frieda ook vir Georgia ’n geskenk neergesit het. Ek druk-druk my geskenk teen my bors. Dit voel styf aan die een kant en sag aan die ander kant. Is dit dalk ’n boek? Ek wonder van watse skrywer. My vingers jeuk om dit oop te maak, maar my ma-hulle kom terug met bordjies koek.
Ek kry ’n sny van Georgia se wortelkoek en sy kry ’n sny van my red velvet.
“Ek kan nie glo dis julle laaste jaar by die huis nie.” Ouma Lattie se oë skiet vol trane.
“Ai, Ouma, ons sal tog kom kuier,” keer Georgia voor ons ouma te emosioneel raak.
“Ja, maar dit sal nie dieselfde wees nie,” sê Ouma.
Vreemd, ek het nog nooit so daaraan gedink nie. Ek en Georgia doen by verskillende universiteite aansoek en ons gaan in verskillende rigtings swot. Dit beteken ons gaan op verskillende plekke bly. Ons gaan ander mense wees en nie meer geken word as “ouma Lattie Daniels se kleinkinders” nie. Ons gaan, miskien vir die eerste keer in ons lewe, ons eie mense wees.


Hoofstuk 1
Ek tel my soetkys van my bed af en pak die laaste van my goed in my rugsak voordat ek gou vir Nadia ’n WhatsApp stuur.
Georgia maak my naar , skryf ek.
Nadia antwoord binne sekondes. Môre vir jou ook. Ek het lekker geslaap. En jy?
Ja, ja. Het jy gehoor? skryf ek.
Dat jy nie van jou niggie hou nie? What else is new? En twee sekondes later: Is julle op pad? Die bus ry oor ’n uur en Sir is ’n hot mess.
Ons wag net vir oom John ... Ons is nou daa’, antwoord ek.
Ek voel sommer vies vir Nadia. Is dit te veel gevra dat my beste vriendin luister na my probleme met my niggie? Georgia was gisteraand weer in ’n mood en ons het oor elke ding verskil – selfs oor wat om op tiewie te kyk. Ek wonder wat haar nou weer omgekrap het.
Aan haar kant van die kamer is Georgia ook besig met haar selfoon. Net toe ek wil uitstap, hoor ek: The number you’ve dialled is not available at the moment. Ek kyk op en sien hoe Georgia se gesig val. Daar is net een persoon wat my niggie so laat lyk, en ek weet ek het reg geraai toe sy begin praat.
“Hallo, my pa. Dis ek ... Georgia. Ons vertrek vandag op die matriektoer. Uh, ek wou jou maar net laat weet. Oukei, bye.”
Moet ek vra of sy oukei is, of sal dit dinge net erger maak? Ek kan ook nie maak asof ek nie gehoor het nie want ons kamer is piepklein.
“Is jy oukei?” probeer ek anyway.
Sy kyk nie op nie, maar haar oë is duidelik rooi.
“Ek’s orraait,” sê sy.
“Nee, jy is nie.” Ek skraap moed bymekaar. “Georgia, miskien ...”
My niggie draai om. Moenie krap nie , waarsku haar oë .
“Ek is orraait!” Sy verdwyn by die deur uit.
Ek weet nie eens hoekom ek nog probeer nie.
“Matrieks, nog vyftien minute dan moet ons in die pad val.”
Meneer Archibald – Sir, ons Engelsonderwyser – staan lêer in die hand en tik op sy horlosie met die ander hand. Hy gee die ouers ’n maak-nou-klaar - kyk en gaan terug na waar juffrou Moses en oom Clive, die busbestuurder, staan.
Die bus staan by die tweede skoolhek, agter die winkels, want die parkering by die hoofhek is vol. Drie kerke hou hul dienste op Sondae by die skool.
Ek kyk om my rond. ’n Mens sou sweer ons vlug, want orals is ouers besig om seker te maak ons agtienjariges, wat reeds kan stem en drank koop, klim veilig op ’n bus. Die matrieks is excited – vir sommige is dit die eerste keer wat hulle buite Barkly travel – maar ons families klou. Myne is van die ergste. Ek wens Sir wil met my ma praat; sy is embarrassing.
“Pas mekaar op, en whatsapp ons elke dag.”
“Ja, Ma.”
Ek sug. Ek is baie lief vir my ma, sy is een van my beste vriende, maar hoekom maak sy asof ek saam met die engel Azrael sal wegstap sodra ek onder haar oë uit is? My ma moes eintlik baie kinders gehad het. Sy het te veel liefde vir een kind. Omdat ek nie broers of susters het nie, is al haar liefde en aandag op my gefokus. Dis soms baie lekker, maar ander tye is dit nie so great nie. Gelukkig bly antie Frieda en Georgia saam met ons. Dit help.
Ouma Lattie druk my teen haar bors. Dit laat my warm en veilig voel. Sy het kerk gemis om hier te wees, en ek is bly daaroor.
“Pas julle op, my kind.”
“Ons maak so, Mamme,” belowe ek.
Ons het ’n cool ouma; dis een van die min dinge waaroor ek en Georgia saamstem. Sy’s in haar sestigs, altyd dressed to kill en sy preek nie heeltyd vir ons nie. As ek saam met Nadia by haar ouma gaan kuier, moet ons altyd na ’n preek luister oor vandag se kinders se “losbandigheid” en wat die Bybel voorskryf. Ek gooi wye draaie om daai antie as ek kan.
“Dis ’n week, moenie met ’n MA-graad terugkom nie,” waarsku antie Frieda langs ouma Lattie.
My niggie gee haar ’n vuil kyk. Ai, en ek het gedink mý ma het die mees embarrassing ding gedoen toe sy vir my ’n kosblik gegee en my op die voorkop gesoen het asof ek vyf jaar oud is. Georgia word ook soos ’n kind behandel, maar sy aanvaar dit nie so gelate nie. Ek is nie lus vir daai stry nie, dit maak my moeg.
“Moet dit nie repeat nie,” waarsku ek my ma toe ek die duiweltjies in haar oë sien.
“Hierso, Gabby.” Oom John hou ’n pakkie sout-en-asyn-tjips, ’n pakkie Rolo en ’n pakkie Marie biscuits na my toe uit.
Sy vrou, antie Siënna, gee vir Georgia ’n paar van haar gunstelinge: Lays se red chili pepper-tjips, ’n Flake-sjokolade en Lemon Creams.
“Dankie, oom John,” sê ek.
My oom druk my teen hom vas en ek strik my arms agter sy rug. Het hy en antie Siënna gestry? Hulle hou gewoonlik hande vas en gee ons twee gelyk ’n drukkie. Iets voel verkeerd tussen hulle, al vir ’n rukkie.
“Is julle oukei?” vra ek sag terwyl Georgia vir antie Siënna uitvra oor haar rok.
My oom se mond trek effe skeef. “Ons is oukei, honne. Moet nie so worrie nie, jy gaan plooie kry.”
Die bekende grappie laat my ’n bietjie meer gerus voel. Ek sal later met Georgia praat – miskien het sy iets gesien of gehoor.
Ek gee my antie ook ’n drukkie. “Dankie, antie Siënna. Ek waardeer dit.”
“Plesier, Gabby. Ons is lief vir julle. Veilig ry.”
Ek kyk rond tot ek my beste vriendin sien. Nadia en haar ma staan stil langs mekaar. Hulle het seker klaar gegroet.
’n Taxi stop op die hoek met DJ Khaled se musiek wat kliphard uit die vensters klim. Oom David hang by die ruit uit. “Georgiaaa, wat gaan aan?” roep hy.
Almal draai om en kyk na die taxi voordat hulle na ons toe draai. Ek sien hoe Nadia se ma se oë tussen die taxi en antie Frieda beweeg. Ek weet al hoe sy haar skinderstorie gaan begin. “Ek is nou nie een om te skinner nie, maar ...”
Ek draai terug en kyk na Georgia. My arme niggie staan kop onderstebo. Dit lyk asof sy wil weghardloop. Ek het darem net één embarrassing ouer.
Oom David klim uit die taxi en stap na Georgia toe.
Antie Frieda is skielik besig op haar foon, maar Georgia kyk vir haar ma voor sy omdraai om haar pa halfpad te ontmoet.
Oom John kyk na Georgia se pa, klik sy tong en skud sy kop. “Georgia, ons sien julle oor ’n week, nè? Pas julle op. Kom, Ma, voor ek iets sê wat kon gebly het,” brom hy onderlangs. Hy vat vir ouma Lattie aan die arm en stap na sy kar.
Ek lig my hand, en kyk dan weer na oom David en Georgia.
“Wat gaan aan?” Oom David se oë beweeg oor die mense.
Rêrig? Het hy dan nie na Georgia se voicemail geluister nie?
Georgia kyk hom net aan. Dit lyk amper asof sy nie gaan antwoord nie, maar dan sug sy en sê: “Dis die matriektoer.”
“O, is dit vandag? Ek het gedink dis volgende maand.” Hy kyk na waar die onderwysers staan. “Hoekom is dit so vroeg hierie jaar?”
Georgia skop-skop met haar tekkie se punt na die klippies op die grond. “Die onderwysers wil die toer en die matriekafskeid uit die pad kry sodat ons op ons skoolwerk kan fokus.”
Ek is seker sy het dit reeds vantevore vir hom gesê.
“Wag gou hier,” sê oom David.
“Oh my word,” sê Nadia, wat soos die res van ons staan en toekyk.
Georgia haat seker elke oomblik hiervan. Sy loop stadig agter hom aan, haar oë op die grond. Ek weet sy het hom die vertrekdatum van die toer gegee – al ’n paar keer. Ons deel ’n kamer, en is luister

  • Univers Univers
  • Ebooks Ebooks
  • Livres audio Livres audio
  • Presse Presse
  • Podcasts Podcasts
  • BD BD
  • Documents Documents