Waldo en die meermin met die blou hare
75 pages
Afrikaans

Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage

Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement

Je m'inscris

Waldo en die meermin met die blou hare , livre ebook

-

Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement

Je m'inscris
Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne
En savoir plus
75 pages
Afrikaans

Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage

Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne
En savoir plus

Description

Ná ’n raaiselagtige voorval by ’n akwarium besluit Waldo en Connie om ondersoek in te stel. Maar die geheim wat hulle ontdek, is selfs vreemder as wat hulle ooit kon raai … Kan hulle die eienaars van die akwarium help om een van die see se grootste geheime te bewaar? En wie is die geheimsinnige figuur wat hulle skynbaar agtervolg – ’n beskermengel, of iemand vir wie hulle moet ligloop?

Dit is die derde boek in hierdie suksesvolle reeks.


Sujets

Informations

Publié par
Date de parution 01 avril 2021
Nombre de lectures 0
EAN13 9781776250295
Langue Afrikaans
Poids de l'ouvrage 2 Mo

Informations légales : prix de location à la page 0,0280€. Cette information est donnée uniquement à titre indicatif conformément à la législation en vigueur.

Extrait

Illustrasies deur Gwendolene van der Merwe
Pan Macmillan Kinderboeke
www.panmacmillan.co.za


Hoofstuk 1
’N ONVERWAGSE PAKKIE

Dit is ’n koue, nat grys middag. Die soort middag wat jou laat wens jy het eerder vandag in die bed gebly. Die winterlug is die kleur van vuil skottelgoedwater. As jy toevallig op hierdie oomblik naby Kruwelhof verbystap en opkyk, sal jy sien hoe ’n spierwit papiervliegtuigie stadig van die woonstelblok se dak af ondertoe gesweef kom. Meteens gryp ’n rukwind die vliegtuigie soos ’n stout kleuter, laat dit wild in die rondte tol en slinger dit teen die nat teerstraat vas.

Waar hy op die dak van die woonstelblok staan, kyk Waldo ondertoe. Hy staar na die vliegtuigie wat soos ’n dooie duif in die straat lê. ’n Motor kom verbygejaag en spat ’n boog vuil water daaroor. Spanner leun met sy voorpote teen die dakreling en gee ’n teleurgestelde tjankie. Dan kyk hy met ’n frons na Waldo asof hy wil sê: Nou wat nou? Gaan jy nie nog ’n vliegtuig vou nie? Spanner is ’n spanjoel, en frons is iets waarmee spanjoele baie goed is.
“Die wind is te sterk,” verduidelik Waldo. “Ons kan môre weer probeer.”
Waldo het maande en maande lank geoefen om die perfekte papiervliegtuigie te vou – een wat baie ver kan vlieg sonder om neus eerste ondertoe te duik. Dit verg baie konsentrasie en ’n hele klomp ingewikkelde voue, maar sy vliegtuigies vlieg partykeer so ver oor die straat en oor die parkie dat mens dit later nie meer kan sien nie.
Maar vanmiddag staan selfs Waldo se spesiale vliegtuigies nie ’n kans teen die wind nie.
Spanner staar na die parkie oorkant die straat en gee ’n verlangende hondesug. Smiddae gaan stap Waldo gewoonlik met hom, maar vandag is dit te nat en koud en modderig. Op sonnige dae is die parkie ’n vrolike bontspul van mense wat met hulle honde stap, babas in stootwaentjies stoot, die eende voer of ’n ent gaan draf, maar vanmiddag is dit net so grys en koud soos die lug, en so te sê verlate. Die enigste tikkie kleur is iemand wat met ’n kanariegeel reënjas tussen die bome deurstap.
Waldo swaai om toe hy ’n elektroniese wirrr -geluid agter hom hoor. Hy glimlag toe hy vir Connie in haar rolstoel sien nader ry. “Haai, Connie,” groet hy.

Connie kyk hom vreemd aan. “Waldo, kan ek jou iets vra?”
“Uhm ... ek dink jy hét so pas,” sê Waldo.
“Wat bedoel jy?”
“Nóg ’n vraag!” sê Waldo en grinnik. “Jy het nou al twee vrae gevra.”
Connie klik haar tong vererg. “Man, moenie vir jou snaaks hou nie. Sê my, waaraan dink jy as jy altyd so alleen hier op die dak staan en papiervliegtuie vou?”
Waldo trek sy skouers op. “Niks eintlik nie.”
Connie gee hom ’n kyk en lig ’n wenkbrou.
Sy hoef niks meer te sê nie. Waldo weet sommer daardie wenkbrou beteken: Waldo Loots, ek ken jou heeltemal goed genoeg om te weet wanneer jy vir my jok. As mens op ’n goor, koue dag soos vandag op die dak van ’n woonstelblok staan en papiervliegtuie vou, moet daar ’n goeie rede voor wees.
Waldo glimlag. Vandat Connie-hulle hier in Kruwelhof ingetrek het, is hulle twee beste vriende. Connie is slim en snaaks en avontuurlustig ... en sy het ’n ongelooflike talent om haar neus in ander mense se sake te steek.
“Ek sal jou sê waaraan ek op hierdie oomblik dink ...” sê Waldo en vryf sy hande teen mekaar om hulle warm te maak. “Warm sjokolade met malvalekkers!”

Connie grinnik. “As dit ’n jok is, gee ek nie eens om nie. Solank ek ook kan kry!”
Waldo tel sy pakkie notapapiertjies op en stap agter Connie aan hysbak toe. Hy het dit nog nooit vir Connie vertel nie, maar partykeer verbeel hy hom die wind sal sy papiervliegtuigies al die pad tot by sy pa vat.

Waldo se pa het spoorloos verdwyn toe hy nog ’n baba was. Die polisie soek al jare lank nie meer na hom nie – hulle het moed opgegee. Waldo het nooit regtig sy pa geken nie. As hy sy oë toeknyp, sien hy net die prentjie van sy pa soos hy op die ou foto’s in die fotoalbum lyk: ’n breë glimlag, blou oë en ’n wilde bos bruin krulhare, nes Waldo s’n. En tog, verlange is ’n vreemde ding – jy kan na iemand verlang selfs al het jy hom nooit regtig geken nie.
Die hysbak se deur pieng! oop en Connie ry in, met Waldo kort op haar hakke.
“Waar is Chandrelize vanmiddag?” vra Waldo terwyl die hysbak ondertoe rammel. Kruwelhof is ’n baie ou gebou – en die hysbak knars en skud altyd asof jy in die pens van ’n vreesaanjaende oerdier beland het.
“Waar dink jy?” vra Connie en rol haar oë. “Vas aan die slaap – met haar vlegsel in ’n bak vol pannekoekdeeg.”
“Kan Chandrelize sowaar pannekoek bak?” vra Waldo verbaas.

Connie trek net haar skouers op. “Ons sal ongelukkig nooit weet nie.”
Connie se ma en pa is altyd besig, besig, besig. Daarom huur hulle ’n oppasser om haar skool toe en terug te vat en haar smiddae geselskap te hou. Nou, in die skoolvakansie, moet sy in die oggende ook na Connie kyk terwyl haar ma-hulle werk.
Ongelukkig werk Chandrelize saans tot laat as kelnerin in ’n restaurant én sy studeer om ’n skoonheidsterapeut te word, so bedags is sy nooit heeltemal wakker nie. Sy raak gereeld op die vreemdste plekke aan die slaap. Eenkeer het sy op pad skool toe by ’n rooi verkeerslig agter die stuurwiel aan die slaap geraak en ’n verkeersknoop veroorsaak.
Die hysbak kom klaterend op Waldo-hulle se vloer tot stilstand.
“Hallo, julle drietjies!” groet ’n bekende stem toe die deur oopgaan.
“Hallo, tannie Martie!” groet Connie en Waldo, en Spanner gee ’n vriendelike blaffie.
Tannie Martie en haar kat, Kaspaas, bly in die woonstel langs Waldo-hulle s’n. As sy ma party aande onverwags moet uitgaan om ’n gebarste waterpyp of ’n verstopte drein te gaan regmaak, bly Waldo by haar. Hy gee nie regtig om nie, want tannie Martie is gaaf en sy bak die heerlikste melktert wat gereeld pryse wen.
“Waldo, daar’s ’n pakkie vir jou voor julle deur,” sê tannie Martie.
Waldo frons. “’n Pakkie?” vra hy. “Regtig? Vir my?”

“Wel, jou naam staan daarop,” sê die tannie.
Waldo glimlag. Connie is nie die enigste een wat graag haar neus in ander mense se sake steek nie. Amper niks gebeur in Kruwelhof sonder dat tannie Martie daarvan weet nie.
“Is jou ma dan nie tuis nie?” vra die tannie.
Waldo knik. “Sy is, Tannie,” sê hy. “Ek dink sy vat ’n middagslapie.”
Waldo se ma werk baie hard. Dis nie grappies om ’n loodgieter te wees nie – partykeer kom sy eers laat saans tuis. Maar vanmiddag het sy vroeg klaargekry met haar werk. Omdat dit skoolvakansie is, het Waldo en Spanner die hele oggend saam met haar in die Rammelkas rondgery. Dit is vir Waldo lekker om vir sy ma die gereedskap aan te gee en te kyk hoe sy werk. Hy is seker daar is min ma’s wat so handig is met ’n skroewedraaier en ’n boor en ’n hamer soos syne!
“Kyk, daar’s die pakkie,” sê tannie Martie en beduie in die gang af.
Sy is reg. Voor Waldo-hulle se deur staan ’n boks.
“Wie sou dit daar gelos het?” wonder tannie Martie hardop. “Op ’n Vrydagmiddag nogal. En jy sê jy verwag nie ’n pakkie nie?”
“Uhm ... dalk is dit daardie nuwe ... e ... boek wat ek oor die internet bestel het,” sê Waldo vinnig.
Connie kyk agterdogtig na hom, maar sy sê niks.
“’n Boek? O,” sê tannie Martie teleurgesteld.
Waldo buk vinnig en tel die pakkie op. Dit is omtrent so groot soos ’n skoenboks, en glad nie swaar nie. En, ja, sy naam en adres staan bo-op:

Dit lyk of tannie Martie staan en wag dat Waldo die pakkie moet oopmaak.
“Lekker middag verder, tannie Martie!” sê Waldo terwyl hy die woonstel se deur oopsluit.

“Reg ... e ... nou ja, julle moet weer ’n slag kom inloer vir melktert!” sê sy terwyl sy wegstap.
“Dankie, tannie Martie!” roep Waldo en trek vinnig die deur toe.
Connie vou haar arms en kyk na hom met ’n wenkbrou wat weer hoog teen haar voorkop opklim. “Van wanneer af bestel jy kastig goed oor die internet, Waldo Loots?” vra sy.
Waldo voel hoe sy wange warm word. Connie is reg. Hy het nog nooit enige iets oor die internet bestel nie. Connie is die een wat verslaaf is aan rekenaars en tegnologie en enige iets wat met mikroverwerkers en knoppies en stroombane werk.

Waldo krap met sy vingernael die punt van die dik kleefband los waarmee die boks toegeplak is. Hy trek dit met ’n grrrts -geluid af en maak die boks se flappe oop.
Verbaas staar hy na die inhoud van die boks.
Twee groot, treurige groen oë staar na hom terug.
“Wys my!” sê Connie ongeduldig.
Waldo haal die speelding uit die boks en hou dit na Connie uit. Sy kyk verbaas daarna. “Is dit ’n seeskilpad?”
Die opgestopte lapskilpad lyk of dit beter dae geken het. Die wollerige materiaal is plek-plek vol kaal kolle, asof motte daaraan geknibbel het, en die materiaal is valerig en verbleik. Boonop het die seeskilpad die hartseerste gesigsuitdrukking wat Waldo nog ooit gesien het.
“Siestog,” sê Connie en gee die speelding ’n drukkie. Dan kyk sy na Waldo. “Wie op aarde sou die seeskilpad hier vir jou gelos het?” vra sy.

Waldo skud net sy kop. “Geen idee nie.”
Connie bekyk die skilpad met ’n frons en druk-druk daaraan, asof sy hoop die skilpad sal begin praat en verduidelik hoe dit voor Waldo-hulle se deur beland het. “Dis die vreemdste ding ooit,” sê Connie.
Dáárvan is Waldo nie so seker nie.
Die afgelope paar maande het daar ’n paar baie vreemde dinge met hom en Connie gebeur.
Hulle het weerwolwe ontmoet.
Hulle het gehelp om ’n babadraak te red.

En Waldo het begin om onverklaarbare gedagteflitse te kry ... Hy hou net mooi niks daarvan wanneer hy die eienaardige dronk gevoel in sy kop kry en allerhande vreemde tonele begin sien nie. Maar sy gedagteflitse het al ’n paar keer handig te pas gekom, soos die keer toe hy ’n klompie vermiste troeteldiere in hulle buurt moes opspoor, en toe hy ’n dief moes help vastrek wat ’n draakeier gesteel het. Die dinge wat hy partykeer in sy gedagtes sien, het nog elke keer op ’n man

  • Univers Univers
  • Ebooks Ebooks
  • Livres audio Livres audio
  • Presse Presse
  • Podcasts Podcasts
  • BD BD
  • Documents Documents