Waldo en die Weerwolf met die Rooi Tekkies
49 pages
Afrikaans

Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage

Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement

Je m'inscris

Waldo en die Weerwolf met die Rooi Tekkies , livre ebook

-

Découvre YouScribe en t'inscrivant gratuitement

Je m'inscris
Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne
En savoir plus
49 pages
Afrikaans

Vous pourrez modifier la taille du texte de cet ouvrage

Obtenez un accès à la bibliothèque pour le consulter en ligne
En savoir plus

Description

Wat sluip daar in die maanlig rond?

Waldo en Connie bly in dieselfde woonstelblok – en hulle krap behoorlik kop. Oral in hulle buurt verskyn plakkate en pamflette oor vermiste troeteldiere. En boonop is daar iets vreemds met Waldo aan die gang … hy sien helder oordag dinge wat nie bestaan nie! ’n Nat, slymerige bol hare lei Waldo en Connie op die spoor van ’n onvergeetlike (en gevaarlike) avontuur – een wat jou sal laat tjank van lekkerkry!

Waldo and Connie live in the same block of flats – and they are puzzled by the strange things that’s happening in their neighbourhood. Pets are going missing and as if that’s not enough, Waldo is seeing things … things that does not really exist. A wet, slimy ball of hair leads the two friends on an unforgettable (and dangerous) adventure – one that will leave you howling …


Sujets

Informations

Publié par
Date de parution 01 août 2020
Nombre de lectures 0
EAN13 9781776250172
Langue Afrikaans
Poids de l'ouvrage 2 Mo

Informations légales : prix de location à la page 0,0280€. Cette information est donnée uniquement à titre indicatif conformément à la législation en vigueur.

Extrait

Illustrasies deur Gwendolene van der Merwe
Pan Macmillan Kinderboeke
www.panmacmillan.co.za


Hoofstuk 1
GAPENDE KRAAIE EN ’N GROEN SEEKOEI
Dit is ’n warm somersmiddag. Die skool het pas uitgekom. Waldo en Connie wag in die parkeerterrein. Die meeste kinders is klaar huis toe, maar daar is nog geen teken van Waldo se ma se paneelwa nie. Connie se oppasser is ook al weer laat.
’n Straaltjie sweet kriewel onder Waldo se skoolhemp teen sy rug af.
“Dit voel of my brein gaan smelt,” kla Connie. “Ek sal nou my Xbox verruil vir ’n roomys.”
Asof iemand besluit het om haar aanbod te aanvaar, begin daar eensklaps ’n vrolike deuntjie speel.
Trieng-ke-tjieng-ke-tjieng-tjieke-tjiek-tjieng!
Dit is ’n deuntjie wat amper elke kind op aarde ken – die opgewekte getingel van ’n roomyskarretjie.
Connie kyk hoopvol op. Maar dan sug sy.
“O,” sê sy. “Dis jou ma.”
Waldo grinnik. In ’n rookwolk kom die Rammelkas deur die skoolhek aangery.
In sy vorige lewe was die pienk paneelwa ’n roomyskarretjie. Waldo se ma het dit gekoop en in ’n loodgieterwa verander. Teen die kant staan: Loots Loodgieters – Die Loodgieter met Lipstiffie. Oral op die paneelwa is prente van toilette, pype en krane geverf. Maar as jy mooi kyk, kan jy nog die woorde Ronnie se Roomys onder die verf sien deurskyn. O ja, en as mens die toeter druk, begin die roomysliedjie speel.

“Waldo Loots, ek weet ek het dit al duisend keer gesê, maar jy het wraggies die coolste ma op aarde,” sê Connie.
Waldo grinnik. Party kinders terg hom omdat sy ma elke dag met ’n paneelwa vol prente van toilette by die skool aankom. Maar hy gee nie regtig om nie. Party kinders terg vir Connie ook omdat sy in ’n rolstoel is. Maar sy sê altyd dit pla haar nie – sy steur haar nie aan dinge waaraan sy niks kan verander nie. Dit klink altyd vir Waldo na baie goeie raad. En in vergelyking met ’n rolstoel is die Rammelkas glad nie so erg nie.
Dit is reg, ja – Waldo se ma is ’n loodgieter. Sy dra elke dag ’n blou oorpak en bloedrooi lipstiffie. Daar’s nie ’n stukkende geiser, lekkende kraan of verstopte drein wat sy nie kan regmaak nie. Haar hande staan vir net mooi niks verkeerd nie.
Toe Connie en haar ouers ’n jaar gelede in dieselfde woonstelblok as Waldo-hulle ingetrek het, het sy ma selfs gehelp om die woonstelblok en die skoolgebou meer rolstoelvriendelik te maak.
“Hallo, Waldo! Haai, Connie!” roep Waldo se ma toe sy stilhou. Spanner blaf opgewonde deur die agterruit toe hy vir Waldo sien. Sy bek hang oop in ’n breë, slobberige hondeglimlag.

“Middag, tannie Linda!” groet Connie.
“Sjoe, dit is so warm dat die kraaie gaap!” sê Waldo se ma. “Spring in, Waldo. Ek moet dringend ’n verstopte drein gaan oopmaak.” Sy kyk bekommerd na Connie. “Is Chandrelize nog op pad, Connie?”
Connie knik. “Ja, Tannie, sy het laat weet sy is op pad. Moenie bekommerd wees nie.”
Connie se ouers is altyd besig, besig, besig. Daarom huur hulle ’n oppasser om haar by die skool te kom aflaai en te kom haal, en haar in die middae geselskap te hou.
Ongelukkig is Chandrelize amper altyd laat. Sy werk saans tot laat as kelnerin in ’n restaurant én sy studeer om ’n skoonheidsterapeut te word, so bedags is sy nooit heeltemal wakker nie.
Sy raak gereeld op die vreemdste plekke aan die slaap. Net laas week het Connie haar gekry waar sy pens en pootjies in die bad gelê en ’n uiltjie geknip het.

“Sien jou later, Connie!” sê Waldo en maak die Rammelkas se deur oop. Maar net toe hy wil inklim, kom ’n blonde meisie met lang vlegsels na hulle toe aangehardloop.
“Wag!” roep sy. In haar arms is ’n pakkie pamflette. Sy prop een in Waldo se hand, en gee vir Connie ook een. “Asseblief,” sê sy, “kyk tog of julle nie vir Rambo iewers sien nie.”
Waldo kyk verbaas na die pamflet.

“Is Rambo jou hond?” vra Connie vir die meisie.
Sy knik. “Hy het gisteraand weggeraak. Ons weet nie hoe hy uitgekom het nie. Ek dink my boetie het per ongeluk die tuinhekkie oopgelos.”
“Ons sal beslis ons oë oophou,” belowe Connie.
Waldo vat die pamflet by Connie.
Skielik gebeur ’n vreemde ding. Sy kop begin dronkerig voel. Hy knip-knip sy oë. Meteens is daar ’n verblindende flits, en ’n oomblik lank is daar ’n prentjie in Waldo se kop. Dit lyk soos ...
... die binnekant van ’n restaurant, met mense wat by tafeltjies sit en eet, ’n pizza-oond met oranje vlamme, ’n groen seekoei ...
En dan is dit eensklaps weer weg – net so vinnig soos dit gekom het.

Waldo skud sy kop asof hy die prentjie uit sy kop probeer skud.
“En nou, Waldo?” vra sy ma. “Is als reg?”
Waldo knik. “Uhm ... ek dink ek moet uit die son kom,” sê hy. Dalk begin ’n mens groen seekoeie sien as jy sonsteek kry.
“Nou toe,” sê sy ma. “Daardie drein gaan nie homself oopmaak nie.”
Waldo wip in die Rammelkas.
“Sien jou later, Connie!” roep hy terwyl die paneelwa met ’n gerammel en ’n geskud wegtrek.


Hoofstuk 2
’N BOL HARE
“Gaan jy hier in die Rammelkas wag?” vra Waldo se ma toe hulle ’n paar minute later voor ’n groot huis met ’n lowergroen tuin stilhou. “Dit behoort nie lank te vat nie.”
Waldo is al gewoond daaraan om elke middag sy huiswerk in die paneelwa te doen terwyl sy ma van die een stukkende toilet, verstopte drein of lekkende kraan na die ander jaag. Maar vanmiddag kry hy hopeloos te warm. Die paneelwa voel soos ’n sauna, want die lugverkoeling werk lankal nie meer nie. Ook maar goed dit is nie meer ’n roomyswaentjie nie, want al die roomys sou in ’n oogwink gesmelt het.

“Ons het nie vanmiddag baie huiswerk nie,” sê hy. “Kan ek eerder kom help met die drein?”
Sy ma knik en begin haar gereedskap uitlaai.
Waldo hou daarvan om sy ma te help. Hy is goed daarmee om die regte skroewedraaiers, moersleutels, tange, boorpunte en ander gereedskap aan te gee.
Spanner spring uit die paneelwa en staan gereed. Waldo se ma hang die spesiale gereedskapbelt oor sy rug. Bedags terwyl Waldo in die skool is, is Spanner soos sy ma se skaduwee. Haar kliënte is mal oor die vriendelike spanjoel met die lang, slap ore. Hy geniet dit vreeslik om haar gereedskap rond te dra.

Waldo se ma stap met die huis se tuinpaadjie op en lui die deurklokkie.
Dieng-dong!
Terwyl hulle wag, kyk Waldo rond. Die huis is sommer naby Kruwelhof, die woonstelblok waar hulle bly. Aan die oorkant van die parkie kan hy die dak van die woonstelblok sien uitsteek waar hy en Connie baie middae saam kuier.
Die voordeur gaan oop. ’n Ouerige tannie met ’n kwaai frons loer uit. Sy het gitswart hare met ’n dik grys streep daarin. Haar gesig is natgesweet en rooi. “Nee, dankie,” grom sy. “Ons wil nie koeksisters koop nie.”
Waldo se ma glimlag. “E ... nee, Mevrou,” sê sy. “Ek is die loodgieter! Meneer Vosloo het my gebel. Ek is hier vir die verstopte drein.”
Die tannie se frons word nog dieper. Dit lyk vir Waldo so diep dat ’n potlood heeltemal daarin sal verdwyn. “Is jy seker julle verkoop nie koeksisters nie?” vra sy.
Waldo se ma knik. “Doodseker.” Sy beduie na die logo op haar oorpak waarop Loots Loodgieters geskryf staan. “My naam is Linda Loots. Ek was ’n paar weke terug ook hier.”
“Brunhilde Vosloo,” mompel die tannie. Sy kyk na die logo en brom iets oor loodgieters wat lipstiffie dra. “Nou toe dan,” sê sy. “Dit is my seun wat gebel het oor die drein. Hy is ’n boekhouer. Sy handjies is te sag om enige iets self reg te maak. Kom in. En maak toe die deur agter julle, dis warm.”
Toe hy by die deur instap, kriewel ’n lekker koue rilling langs Waldo se rug af. Binne-in die huis is dit amper so koud soos ’n yskas! Die huis moet fantastiese lugreëling hê.
“Jy weet seker waar die badkamer met die vervlakste verstopte stort is?” sêvra die tannie. Sy vee met ’n sakdoek die sweet van haar voorkop af.
Waldo se ma knik. “Ek was al twee keer vantevore hier. Elke keer oor dieselfde verstopte drein.”
Brom-brom stap die tannie weg en gaan val op ’n sitkamerstoel neer. Voor die stoel staan DRIE waaiers, sien Waldo verbaas. Almal van hulle waai reg op die tannie. Boonop het sy ’n handwaaiertjie waarmee sy haarself koel waai. Sy moet REGTIG vreeslik warm kry!
Waldo stap agter sy ma en Spanner aan deur die koel gange van die huis. In die badkamer gekom, spring sy ma dadelik aan die werk. Sy trek haar handskoene aan en begin die drein met mening pomp om dit te probeer oopkry.
Terwyl hy wag, trek Waldo vir homself gesigte in die spieël. Sy bruin krulhare staan vanmiddag weer in alle rigtings. Maak nie saak hoe hard hy soggens probeer om dit te tem nie, teen die middag is dit weer ’n wilde boskasie.

Ná ’n ruk hou sy ma op pomp en skud haar kop. “Nee, die probleem lê buite,” sê sy.
Sy stap kombuis toe, met Waldo en Spanner agterna, en hulle gaan by die agterdeur uit.
Buite begin sy ’n dreinpyp onder die badkamervenster losdraai.
Waldo en Spanner staan ’n entjie weg, gereed om vir haar enige gereedskap aan te gee wat sy dalk sal nodig kry.
Skielik grom Spanner diep in sy keel. Grrr!
Waldo kyk verbaas op. Op ’n bankie onder ’n koelteboom sit ’n seun. Al is dit so warm, dra hy ’n swart sweetpaktop met ’n kappie wat oor sy kop getrek is.

“Haai!” groet Waldo. “Skuus, ek het jou nie eens daar gesien sit nie. Ek is Waldo ...”
“Lukas,” sê die seun. Sy grasgroen oë gluur nors onder die kappie uit.
Grrr! grom Spanner weer vir die seun.
“Spanner, nee!” raas Waldo.
Dit is vreemd. Spanner is seker die vriendelikste spanjoel op aarde.
Meteens trek die seun se lippe weg ... en hy grom terug!
Spanner gee ’n verskrikte tjankie. Sy stert verdwyn tussen sy bene en hy kom kruip vinnig agter Waldo weg.
Die seun grinnik. Dan staan hy sonder ’n woord op en verdwyn in die huis.
Waldo se ma kom orent. Dit lyk of sy nie gesien het wat pas gebeur het nie.
“Aha!” sê sy. “Nes ek gedink het.

  • Univers Univers
  • Ebooks Ebooks
  • Livres audio Livres audio
  • Presse Presse
  • Podcasts Podcasts
  • BD BD
  • Documents Documents